Gotell
GOTELL BYBELSTUDIE

DIE WOORD AS DIE WAARHEID

MOTIVERING VIR DIE OPSTEL VAN DIE BOEK


Baie mense worstel met hul eie persoonlike vrae, maar is te skaam of verleë om met iemand daaroor te praat. Hou net in gedagte ons leef in die eeu van inligting, rekenaars, selfone, Facebook, Twitter ens. Mense wil weet en soek meer as om maar net vir ’n soekende siel te sê: ,,Ek weet self nie veel nie. Jy moet maar net glo”.

Baie jongmense kry nie sinvolle antwoorde by hul ouers of kerk nie.

Vrae soos: Is die Bybel werklik outentiek – gesaghebbend, duik al meer en meer op. Ek het vir meer as 30 jaar sekere debatte in dagblaaie gevolg. Dit was opvallend hoe baie mense mekaar ook nie vind nie. Aan die eenkant was dit diegene wat twyfel oor die bestaan van ’n God, en dat die Bybel as die enigste geïnspireerde Woord van God is. Aan die anderkant was dit gewone Christengelowiges, geestelike leiers en teoloë wat antwoorde probeer gee. Die negatiewe is dat baie van hierdie debatte tot hewige verskille gelei het, en na my persoonlike mening,  nog meer twyfel laat ontstaan het.

Dit het daartoe bygedra dat ek begin navorsing gedoen het of die Bybel, as Woord van God, antwoorde het op die mees algemene aktuele onderwerpe waarmee die moderne samelewing wroeg, en selfs tot ernstige twyfel  oor die bestaan van God al dan nie, lei.    

Die voordeel nou is dat indien sekere van hierdie Bybelstudie vrae bespreek word, kom hierdie handleidings eintlik baie meer tot sy reg. Dit stimuleer belangstelling, en die Heilige Gees kry geleentheid om d.m.v. die Woord mense te bedien, om sodoende ook hul geloof te versterk. U sal verstom staan hoe die Here elkeen tydens so ’n Bybelstudie sessie gebruik en inspireer om die Woord spontaan te deel. Dit dien ook as aanmoediging vir medegelowiges  om meer en meer met vrymoedigheid die Woord met ander te deel, om uiteindelik sodoende ook almal se geloofslewe te verryk.

Die doel van hierdie reeks oor Die Bybel en die Wetenskap is om te bewys en te bevestig dat alles by God ontstaan het. Hy is die Outeur. Elke leser moet net intellektueel eerlik, en objektief die inhoud bestudeer. Dit is dus nie net gerig aan Christengelowiges en nie-Christengelowiges nie, maar ook diegene wat sekere dele in die Bybel bevraagteken en selfs twyfel oor die bestaan van God. Goddelike waarhede, soos vervat in die Bybel, is te fyn verweef aan mekaar om enigsins te aanvaar dat dit die produk van menslike inspirasie is. Subjektiewe redenasies oor die Woord lei tot pogings wat dien om te probeer bewys dat God nie bestaan nie!  

Daar is tans, net soos in die verlede, ’n intense aanslag op die Bybel as die Woord van God. Dit sal egter al die toetse deurstaan. Want dit was, is, en sal outentiek bly.

Ek begelei u om die polsende, lewende Woord van God, wat absoluut uniek is, te ontdek. Ek is oortuig u sal hierna saam met my stem dat die Bybel nie ’n mensgemaakte boek is, wat oor eeue aanmekaar geflans is met die sogenaamde stories en mites van 40 outeurs nie.

Alhoewel ek die verhouding tussen die Bybel en die moderne wetenskap ook nagevors het, wil ek dit baie duidelik stel dat die Bybel in die eerste instansie nie ’n wetenskaplike handleiding is nie. Tog, as behoudende bron, maak dit melding van wetenskaplike feite wat onlangs eers deur navorsing bevestig is. Ek noem slegs ’n paar feite:

• Die uitspansel wat nog steeds ontwikkel en uitbrei. Wat al lankal in die Bybel bevestig is, is eers meer as 2,500 jaar later deur Dr. Edwin Hubble ontdek, en later in 1927 deur George Le Maitre bevestig. Meer oor dit in Hoofstuk 4.

• Die aarde wat rond is.

• Die son beweeg in sy eie baan.

• Dit is dag en nag dieselfde tyd op aarde.

• Die verbysterende menigte van sterre.

• Die bevestiging van valleie en bergreekse in die see.

• Die melding van fonteine in die see.

Hierdie is slegs enkeles. Dit moet ook genoem word dat daar nog vele ander onderwerpe rakende die wetenskap is wat nie behandel word nie.  

Ek raak ook sommige van die kwelvrae aan waarmee mense soms worstel,  soos byvoorbeeld:

• Wanneer is die aarde geskape as daar dan plant- en dier- fossiele is wat miljoene jare oud is ?

• Was daar ander mense voor Adam en Eva op die aarde? Wat van bv. die fossiele van menslike wesens en hul kunswerke sowel as werksgereedskap wat so ver as 100,000 jaar terug dateer?

• Was daar twee skeppings gewees, as die Bybel melding maak van geeswesens wat aanvanklik op die aarde geheers het, en daarna menslike wesens?

• Ons lees in Genesis 1 dat God die mens geskape het. Dan lees ons weer in Genesis 2 dat God die mens uit die aarde geformeer het. Hoe moet ’n mens dit verstaan?

• Hoekom word daar in Genesis 1:3 en weer in Genesis 1:14  melding gemaak dat God lig geskep het?


Daarbenewens, een van die belangrikste bewyse dat die Bybel outentiek is, is die Bybelprofesië wat eeue vóór die koms van Christus na die aarde, geprofeteer is. Dit bevestig o.a. die koms van Jesus Christus; uit watter nageslag; die plek van Sy geboorte; Sy geboorte uit ’n maagd; Sy bediening; hoedanige dood Hy sou sterf; Sy opstanding; Sy hemelvaart, en Sy wederkoms.  Almal het in vervulling gegaan, met uitsondering Sy wederkoms waarop die kerk wag. Dit is ook die enigste boek wat hierop aanspraak kan maak!

Meer inligting is uiteraard vervat in hierdie Bybelstudie publikasies om te bewys dat die Bybel as Woord van God gesaghebbend is. In sekere gevalle moes bewyse vanuit die oorspronklike tale, waaruit die Bybel vertaal is, bevestig word. Ek vertrou dat die metode wat ek gebruik het, vir elke leser verstaanbaar sal wees.

My bydrae is om skeppingswaarhede vanuit die Bybel te neem, en dit aan die lesers op ’n praktiese, eenvoudige manier te bevestig.  Dit word deurmiddel van die oorspronklike tale waarin die Bybel geskryf was, gedoen. Soms is die Hebreeuse taalbegrippe ’n bietjie tegnies. Die rede is, dit skep ’n stewige fondasie, gebaseer op die betekenis van die oorspronklike teks van die Ou Testament. Die Bybel is die basis en maatstaf van Christene se geloof in God.   

Mag u dit interessant en insiggewend vind, en baie vrae met voldoende bewyse beantwoord. My gevolgtrekking is die Bybel is verseker outentiek, en die mees kosbare boek wat ’n mens in jou hande kan neem!

 Seënwense,

Chris Mostert   



INHOUD

KORT SAMEVATTING OOR ELKE HOOFSTUK

Na elke hoofstuk is daar Bybelstudievrae wat bespreek kan word.


HOOFSTUK 1:

DIE SKEPPING                                                                    P.6

Hierdie hoofstuk handel oor die geestelike skepping volgens Genesis 1 en die natuurlike skepping volgens Genesis 2. Jesus  is immers die Woord van God (Johannes 1: 1). Hy spreek en dit wat Hy spreek, gebeur. Die Hebreeuse werkwoord  bara word hier vertaal as geskape,  beteken: om nuut te maak, óf uit niks te laat manifesteer. En dit is presies wat gebeur het. Hieruit volg baie interessante, maar ook geestelik verrykende studie.


HOOFSTUK 2:

DIE BYBEL EN DIE MODERNE WETENSKAP                                    P.14

Die Bybel is in die eerste instansie nie ’n wetenskaplike handleiding  nie. Tog, as behoudende bron, maak dit  melding van wetenskaplike feite wat onlangs eers deur navorsing bevestig is. Lees gerus op bladsy 2 meer oor dit, Dit word gevind onder die hoof: Motivering vir die opstel van hierdie boek Deel 1.Deel 2 volg op hierdie een.


HOOFSTUK 3:

DIE BYBEL AS OUTENTIEKE BRON.                                                P.21

Die moderne argeologiese navorsing bevestig die historiese betroubaarheid van die Bybel.


HOOFSTUK 4:

GOD WAT GROOT DINGE DOEN(Job5:9)                                       P.25

Hierdie hoofstuk beloof om baie, baie interessant en geseënd te wees. Ek is absoluut daarvan oortuig dat u dit baie sal geniet. Wanneer ek hierdie inligting met mense deel, is hulle deurgaans in bewondering oor die Bybel as Woord van God. Die aanbieding is eenvoudig en prakties op die Christen se geloofslewe gerig.








DIE BYBEL EN DIE WETENSKAP

VOLUME 1